Nuwe plan om harsingskudding te behandel

Donderdag 3 Maart 2005 bl. 45 - Die Beeld
Ettienne van Rensburg


 

Rugby is 'n kontaksport en neken rugbeserings sal dus nooit heeltemal uitgeskakel kan word nie.

Dit kan wel tot 'n mate beperk en beter bestuur word. Veral op skoolvlak bestaan ruimte vir verbetering wat die bestuur van harsingskudding en kopbeserings betref.

Tot onlangs is algemeen aanvaar dit is voldoende om 'n speler wat harsingskudding opgedoen het, slegs een week te verbied om aan 'n kontaksportsoort deel te neem. Onlangse navorsing toon egter die voorgeskrewe rusperiode van 'n week is heeltemal onvoldoende.

Jon Patricios, spandokter van die Cats en die Leeus, is 'n uitgesproke voorstander vir die bekamping en sorgvuldige behandeling van kopbeserings.

Hy het onlangs die Cats se Supertwaalf-span tydelik vaarwel toegeroep sodat hy hom kan toespits op die bekendstelling van 'n nuwe stelsel om harsingskudding op skoolvlak te monitor en te behandel.

Die Cogsport Concussion Mangement System is deur die Melbourne Universiteit in Australië ontwikkel en dié program word tans deur die meeste rugby-unies in Suid-Afrika, Australië en Engeland gebruik.

Volgens Patricios is die hoofdoel van die Pharos Schools Sports Concussion Programme om voorseisoense neurologiese toetse op individue uit te voer om die betrokke persoon se normale patrone van kognitiewe breinfunksie vas te stel.

Dié inligting word dan later ingespan om te bepaal wanneer die beseerde speler na die veld mag terugkeer. Die terugkeerproses is stelselmatig en die speler se vordering word deurlopend gemonitor om te verseker dat hy/sy ten volle daarvan herstel het.

"Die beseerde speler moet aan drie kriteria voldoen voordat met die terugkeerprogram begin kan word. Die speler moet geen simptome van klassieke harsingskudding toon nie en moet 'n intensiewe neurlogiese toets slaag.

"Die derde vereiste is dat die speler se kognitiewe breinpatrone na normaal moet terugkeer. Die herstelperiode verskil van persoon tot persoon. Sodra die persoon aan die bogenoemde voorvereistes voldoen het, kan hy/sy begin om fiets te ry, dan draf en só stelselmatig terugkeer.

"Die oefeninge kan wel tot verhoogde druk op die brein lei en as 'n speler enige ongemak verduur, word die oefenprogram weer aangepas," verduidelik Patricios.
"Dit is belangrik dat spelers binne die volgende drie weke getoets word sodat die voorseisoense inligting beskikbaar is. Dit help net mooi niks as mense ná die besering voorgekom het by die program wil inskakel nie," sê hy.

Hoewel die tekort aan spelers op skoolvlak druk op afrigters en ouers plaas om spelers te vinnig ná 'n kopbesering toelaat om terug te keer, maan hy dat die wenten-allekoste-benadering ernstige nagevolge kan hê.

"As dié speler weer 'n kopbesering opdoen, kan die simptome baie langer duur of selfs in een persent van alle gevalle onmiddellike drastiese swelling veroorsaak wat die speler se lewe kan kos," maan hy.

Dié program word reeds deur verskeie skole ondersteun. Individue kan ook daaraan behoort. Die koste is R200 per speler per jaar.

Vir nadere inligting kontak Dr. Jon Patricios by 011 442 8283.



FAQ | Links | Contact Us | Home
Website by Edot Web Technologies

 
 


 
 © 2011 Sports Concussion® South Africa